Piano and Friends

Tue Sep 27, 18:30 - Tue Sep 27, 20:00

NWU School of Music & Conservatory Hall

ABOUT

Piano and Friends, ’n samewerkingskonsert van die konservatorium aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Odeion Skool vir Musiek (OSM) aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein, word in September in die konservatorium in Potchefstroom aangebied. Dit is ’n kamermusiekkonsert waarin vier instrumente in verskillende kombinasies gehoor kan word. Die musici is Jana Mathee (klavier) en Thembinkosi Magagula (sang) van die NWU en Anneke Lamont (klavier) en Danré Strydom (klarinet) van die (OSM). Werke op die program sluit in die baie bekende lied “Sheep may safely graze” wat op twee klaviere uitgevoer word en Mozart se “Laudate dominum” uit die Vesperae de Dominica K321 met Themba Magagule (sopraan) en Jana Mathee (klavier). Louis Spohr se “Sei still mein Herz”, “Zwiegesang” en “Sehnsucht” is vir die ongewone kombinasie van stem, klarinet en klavier. “October” uit The Seasons van Tsjaikofski en Brahms se Intermezzo in A majeur op. 118 nr. 2 is vir solo klavier, en nog ’n werk vir twee klaviere, Rachmaninoff se “Romance” uit die Suite op. 17 is ook op die program. Twee werke vir klavier en klarinet is Première Rhapsodie van Debussy en Kovãcs se Sholem-alekhem, waarmee die program afgesluit word.


Anneke Lamont het ’n BMus-graad aan die Universiteit van Kaapstad (UK) verwerf, honneurs en ’n MMus aan die Universiteit van Pretoria (UP) en ’n PhD onder Albie van Schalkwyk en Stephanus Muller aan die OSM. Sy was van 2007 tot 2014 ’n resident-solokunstenaar en -begeleier by die UP, van 2015 tot 2018 musiekdirekteur aan die private skool Oakhill in Knysna en van 2018 hoof van klavierstudies aan die OSM. Lamont het wye ervaring as ’n beoordelaar in kompetisies en Unisa-eksamens en was ook betrokke by die stigting van die ATKV-Muziqanto vir sangers. Sy was 20 jaar lank die amptelike begeleier vir Unisa se internasionale sang- en strykerkompetisies.


Danré Strydom is ’n gebore Namibiër en het met musiekopleiding aan die konservatorium in Windhoek begin. Sy het ’n honneursgraad aan die OSM verwerf en ’n diploma in solo-uitvoering aan die Jacobs School of Music in Indiana, VSA. Hierna het sy haar studies in België voortgesit en twee meestersgrade aan die Koninklijk Conservatorium Ghent behaal. Tydens die studiejare het sy ad hoc vir die Brusselse Filharmonie gespeel. Strydom is sedert 2014 hoof van klarinet- en saxofoonstudies aan die OSM waar sy in 2018 ’n PhD verwerf het. Sy is ’n Buffet Crampon-kunstenaar en Afrika voorsitter van die internasionale Klarinetvereniging.


Jana Mathee het aan die Noordwes-Universiteit studeer waar sy in 2009 as deeltydse pianis aangestel is en in 2014 heeltyds as pianis en dosent. Van 2006 tot 2008 was sy ’n lid van die Wêreldjeugkoor en die Wêreldkamerkoor en in 2015 het sy ’n diploma in sang-uitvoering van die Associated Board of the Royal Schools of Music ontvang. In 2018 het sy ’n meestersgraad in klavieruitvoering aan die NWU behaal en is tans ingeskryf vir ’n doktorsgraad onder leiding van Albie van Schalkwyk. Sy het in 2021 die vise-kanseliersprys ontvang vir haar en die violis Piet Koornhof se uitvoering Behind the Iron Curtain. Mathee is sedert 2021 saam met Koornhof en Human Coetzee (tjello) ’n lid van die Potch Trio.


Thembinkosi Magagula is ’n DMus-kandidaat in sanguitvoering aan die NWU nadat sy ’n MMus in toegepaste sangstudies aan die Maastricht Conservatorium in Nederland ontvang het. Sy het verskeie beurse gekry wat haar in staat gestel het om nagraads aan die Royal College of Music in Stockholm, Swede, te studeer. Sy was ’n semi-finalis in die International Voice Competition in ‘sHertogenbosch, Nederland en het die tweede prys in die Unisa Internasionale Sangkompetisie in 2018 behaal en ook ’n tweede prys in die SAMRO oorsese beurs in 2019.  Magagula het in verskeie operas in Suid-Afrika en Nederland opgetree en in ’n konsertweergawe van Porgy and Bess van Gershwin in Portugal. Haar mees onlangse optredes was in konsertgalas met die Rotterdam Sinfonia onder die stok van Conrad van Alphen in Den Haag, Rotterdam en in Amsterdam se bekende Concertgebouw. Sy het ook ’n rol in die Nederlandse Nasionale Opera se opvoering van Kurt Weill se Aufstieg und Fall der Stadt Mahagonny vertolk.


DIRECTIONS

Piano and Friends
NWU School of Music & Conservatory Hall
62 Thabo Mbeki Way, Potchefstroom, 2520
Get Directions