DOEP IS NIE DOOD NIE
Fri Aug 19, 19:30 - Sat Aug 20, 21:00
The Theatre Linden
ABOUT
Hierdie program is saamgestel uit Koos du Plessis se onsterflike liedjies asook van sy gedigte en tekste word sedert Maart 2014 by Kunstefeeste en landswyd in dorpe en stede aangebied. Dit is ’n herwaardering van sy werk en stel ook van sy minder bekende materiaal bekend. Meer as 30 jaar na sy afsterwe word dit duidelik hoe lewend en relevant sy siening van die lewe steeds bly, hoe treffend sy liedkuns. Jannie du Toit, ’n groot vriend van Du Plessis, sit hiermee sy werk voort om Koos se musiek by ’n volgende geslag te laat voortleef. Hy verwesenlik ook ’n jarelange droom om ’n “eenmanvertoning” oor Koos se werk aan te bied.
“As dit gedaan is en verby, die aarde weer sy erfdeel kry, sal hierdie kluisenaar in my nog iewers in ’n boekrak bly.” Só het Koos du Plessis geskryf oor sy eie verganklikheid. Hy is nou, meer as wat hy ooit kon voorsien het, teenwoordig in die Afrikaanse musiekbelewenis. Sy werk is deur uiteenlopende kunstenaars ontgin - van rockers tot popsangers en a capella-kore, troebadoers en instrumentaliste. Hy het nie tot ’n “boekrak” beperk gebly nie maar sy geskrifte, liedjies en tuisopnames het uitgekring na CD’s, DVD’s, boeke, sangbundels en veel meer. Dit word gesing by braaivleise, konserte, kunstefeeste en kerkdienste. Koos du Plessis leef in sy musiek – in sy ryk nalatenskap.
Alle liedere en bindtekste: Koos du Plessis
Musiekregie en verwerkings: Clinton Zerf
Tjello: Susan Mouton
Klavier: Chanie Jonker